Vervaardiger



 Besoek 

Nuusbrief


Sluit nou gerus aan by Lefra Produksies se nuusbrief om die nuutste nuus oor al ons produksies te kry.


 Sluit gratis aan 


Phillru van Achterbergh

Phillru van Achterbergh het Drama en Film aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) studeer, en word in 2012 die eerste student wat al drie top TUT-toekennings verower. Na Universiteit maak Phillru sommer dadelik sy buiging op die professionele verhoog met rolle in die kinderproduksie Liewe Heksie en sy eerste Lefra-klug, My Vrou se Man se Lyk se Tas, waar hy die rol van Boris vertolk. Hy maak ook sy verskyning in die klugte My Boetie se Boetie se Baba en Daa’ Gaat die Bruid, en tree op as assistent-regisseur vir My Man se Skelmpie se Skelmpie se Vrou. In 2016 word hy genomineer vir ‘n Naledi-toekenning vir sy rol as Andrè Myburg in die produksie Porselein en wys hy verder sy staal as ernstige akteur in die rol van Benjamin Koemoetie in die verhoogproduksie van Fiela se Kind. Phillru is nie net ‘n akteur nie en in 2017 begin hy sy eie maatskapy, Imagine That! Entertainment. Hy was die skrywer, regisseur en vervaardiger van beide die produksies Die Laaste Mango en Light Warrior wat by Aardklop- en die Wêlakapêla-kunstefeeste te sien was. Hy is ook die mede-eienaar van Sessions Entertainment wat musiektoere reël na Ponta do Ouro en Tofu in Mosambiek en Windhoek en Swakopmund, Namibië, en is ook mede-organiseerder van Bushrock Music Festival in Bela-Bela en die Skopgrond Music Festival by die Roodeplaatdam. Televisiekykers sal Phillru ook herken vir sy rolle in Generations en Rhythm City, en veral vir sy rol as Clint Erasmus in Binnelanders. As aanbieder verskyn Phillru op Revue! en was hy die stem van Baard op die program Baard, Bos en Kos. Hy is ook medelid van Arts of Mind wat werkswinkels aanbied wat fokus op kuns en drama as genesingsmedium.


Botha Enslin

Die talentvolle Botha Enslin het in 2003 sy dramakwalifikasie aan die Technikon van Pretoria (nou TUT) verwerf en was die afgelope paar jaar veral besig met kinderteater, met bykans 30 van die produksies onder die belt. “Kinderteater leer 'n kind om in hierdie tyd van hoë tegnologie weer kind te wees,” sê Botha. “Dit laat 'n kind droom en verbreed sy verbeeldingswêreld”. Botha was sedert 2010 (en is steeds!) te sien in Lefra Produksies se Liewe Heksie, waarin hy ‘n paar rolle vertolk. Behalwe sy optredes in kinderproduksies, was Botha onder andere te sien in Houtkruis - Die Musical en Jonathan Taylor se 2010 produksie Dogs of the Blue Gods. Hy is ‘n bekende gesig op televisie met verskeie advertensies agter sy naam, en rolle in onder andere die sepies Generations en Rhythm City, en natuurlik as die fopdosser Thalula in Erfsondes! Hy het ook verskeie rolle in Lefra se klugte sedert 2013 vertolk. Botha was verlede jaar te sien in die Pierre van Pletzen-klug Aaptwak, en fliekgangers sal hom herken as die gholfbeampte in die rolprent Thys en Trix, en het hy ook sy verskyning gemaak as die sekuriteitswag in die bekroonde 2019 Silwerskermfees-rolprent Fuit-fluit. Botha voel vreeslik jammer vir die karakter van Stanley, maar geniet dit vreeslik om die rol te vertolk.


Juanita Mardon

Juanita Mardon van Pretoria het haar Honneursgraad in Drama aan die Universiteit van Pretoria behaal. Sy sit haar studies voort by die Drama Academy of Art San Fransisco. Hierdie 27-jarige aktrise, wat graag skets in haar vrye tyd, het ook die teks geskryf vir die kortfilm Sussie, wat tydens die 9de kykNet Silwerskermfees vertoon was. In My Vrou se Man se Vrou vertolk sy die rol van Barbara, wat sy as “liefdevol, sterk, woelig en vreesloos” beskryf. Sy was in 2017 te sien in die verhoogproduksies Die Avonture van Dawie die Tuindwergie en Ligte! kamera! Aksie!, en word verlede jaar deel van die geselskap van die klug My Oom se Vrou se Plekkie, waar sy die rol van Saskia Wilkenson vertolk.


Marissa Claasen

Marissa Claasen is ‘n 29-jarige aktrise en musikant. Sy het haar B-tech Graad in Drama in 2013 aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie behaal, waar sy verskeie komiese en ernstige rolle in universiteitsproduksies vertolk het, waaronder die rol van Eliza Doolittle in George Bernard Shaw se Pygmalion vir haar ‘n hoogtepunt was. Tydens haar studies ontvang sy ook twee nominasies as beste aktrise. Sedert 2014 was sy deel van vele kinderteater produksies, en het talle rolle in Lefra se kinderproduksie, Liewe Heksie, vertolk. In 2015 was sy aanbieder van die kookprogram, Agter die lekker aan. Sy speel ook gereeld in die Tjiff en Tjaff verhoogproduksies. Marissa was onlangs te sien as Nina van Rooyen in die verhoogproduksie van Fiela se Kind. Sedertdien het sy op verskeie televisieproduksies agter die skerm gewerk. Marissa vertolk ook tans een van die hoofrolle in die Lefra-klug My Oom se Vrou se Plekkie, wat volgende jaar tydens die Oppiwater Kunstefees aanboord die MSC Musica op die planke sal wees, en ook by die Innibos Kunstefees in Junie. Die rol van Mary in My Vrou se Man se Vrou is vir haar ‘n uitstekende platform om haar veelsydigheid as aktrise te wys en natuurlik om mense te laat skaterlag.


Stefan Vermaak

Stefan Vermaak het sy professionele dramaloopbaan in 2007 op die ouderdom van 15 begin as die jonge Benjamin Komoetie in Lefra se Fiela se Kind, geregisseer deur Sandra Prinsloo. Tydens sy hoërskoollooppbaan aan die Hoërskool Menlopark in Pretoria verskyn Stefan in verskeie skoolproduksies, maar besluit na skool om BCom Besigheidsbestuur aan die Universiteit van Suid-Afrika te studeer. Sy buitengewone sterk stem, energieke, vriendelike persoonlikheid en uiteenlopende vermoë as akteur verseker egter dat die dramawêreld hom nie verloor nie, en word hy in 2011 die rol van Neil Burger aangebied in die kykNet-reeks Hartland. Kykers sal hom veral onthou as Wouter Viljoen in die sepie Villa Rosa, ‘n rol wat hy vir vyf jaar vertolk. Hy verskyn ook in die reeks High Rollers en maak sy verskyning in Binneland, voor hy in 2017 by die geselskap van Getroud met Rugby aansluit as Daniel Myburgh. Stefan is tans te sien in die rolprent Moffie onder regie van Oliver Hermanus.


Etienne du Plessis

Etienne du Plessis vertolk tans die rol van Phillip Martins in die Lefra-klug My Oom se Vrou se Plekkie. Etienne het ook aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie studeer en in 2018 die rol van The Big Bopper in die musiekblyspel Buddy – The Buddy Holly Story vertolk. Oor sy karakter in My Vrou se Man se Vrou, Speursersant Porterhouse, sê Etienne: “Alhoewel hy naiëf en soms verward is, glo hy in die beste van mense”.


Thiart Li

Thiart Li is in Pretoria gebore en het van sy kinderdae af in die vermaaklikheidswêreld belang gestel. Veelsydig, energiek en toegewyd is maar slegs 'n paar woorde om hierdie akteur, sanger, seremoniemeester en stemkunstenaar te beskryf. Thiart voltooi sy Dramastudies in 2012 aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie. Tydens sy studies het hy in verskillende produksies soos Pygmalion, Madea, Hothouse en Corpus Christi gespeel, om maar net 'n paar te noem. In 2012 maak hy ook sy professionele debuut in Ester - Die Musical in die Staatsteater in Pretoria. Aan die einde van 2013 maak hy sy internasionale debuut meet die pantomime Beauty and the Beast in die Madinat Jumeirah-teater in Dubai. Thiart, wat graag origami vou in sy vrye tyd, het ook ‘n alterego genaamd Shenay O’Brien, wat in 2015 geskiedenis gemaak het as die eerste fopdosser in die realiteistreeks Idols SA, waar syu die top 16 gehaal het. Oor sy karakter Bobby sê hy: “Bobby is flambojant, eksentriek en definitief nie skaam of op sy bek geval nie! Definitief iemand wat almal in hulle lewe nodig het.”